Mediese selfbetalings styg met skokkende 13,4%

Die brood het gekrimp, maar ons betaal nou meer daarvoor.

Só het ’n ekonoom die verhoging van meer as 13% in selfbetalings deur mediesefondslede die afgelope jaar beskryf.

Verbruikers wat elke jaar swaar trek aan die premies vir hul mediese fondse het boonop nog verlede jaar R29,7 miljard uit hul eie sak opgedok.

Dit is 13,4%, of ’n hele R2,5 miljard, meer as die vorige jaar, toon die jongste jaarverslag van die Raad op Mediese Skemas (RMS).

Boonop word dié syfer onderskat omdat dit net bereken word op die rekeninge wat lede indien waarvoor hulle self betaal het.

Die selfbetalings is die bedrae waarvoor geëis is wat fondse nie betaal nie.

“Dit kan ’n onderskatting wees van die werklike bedrag wat self betaal word omdat lede nie altyd hul eise aan hul fondse stuur wanneer hul voordele opgedroog het nie,” het die RMS in die verslag gesê.

Johann van Tonder, ’n ekonoom en navorser vir Momentum, het gesê mediese inflasie meet nie die styging in bybetalings nie, maar meet net die styging in bydraes tot fondse .

Dis normaalweg so rondom 8% – al klaar bo verbruikersprysinflasie.

“Dis so goed die brood se prys styg met 8%, maar die brood krimp met 10%,” het hy verduidelik. Dit is só omdat die styging in selfbetalings te doen het met voordele wat krimp.

Damian McHugh, hoof van bemarking en verkope van Momentum Health, het ook verlede week gesê die voordele in die bedryf het oor die jare verminder.

Van Tonder sê as na die patroon van besteding van verbruikers gekyk word, kan gesien word hulle het al drasties ingekort op duursame goedere en reise en selfs op onderwys, maar mediese uitgawes spring.

Volgens hom is dit een van die redes hoekom mense minder spaar vir aftrede en hoekom mense meer leen, want hulle kan mediese uitgawes nie beskostig nie.

Hy het gesê wat met mediese fondse gebeur, is besig om deur die hele Suid-Afrika te gebeur.

Talle berigte is al die afgelope jare geskryf oor byvoorbeeld sjokoladestafies wat kleiner word, maar die pryse is hoër.

“Selfbetalings moet saam met die bydraes gemeet word,” het hy verduidelik, om die werklike impak van mediese inflasie te verstaan.

“Dan kom mense by ’n baie groter gewig van medies in die inflasiemandjie uit.”

Van Tonder het gesê mediese uitgawes maak ’n al hoe groter deel van mense se besteding van hul inkomste uit.

“En dit verklaar baie ander goed, soos hoekom mense hul polisse laat vaar en dieper in die skuld raak en minder spaar.”

Kyk na die meegaande grafiek om te sien waarop die meeste van die geld bestee word. Dit stem min of meer ooreen met die eise uit mediese spaarrekeninge. Die meeste van die geld is op medisyne bestee, want die bydraes tot mediese fondse gaan meestal na hospitale en spesialiste.

Mediese selfbetalings styg met skokkende 13,4%

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment