SA gewaarsku oor dodelike longpes

Die dodelike longpes wat in Madagaskar uitgebreek het, eis al hoe meer slagoffers met die dodetal wat nou al gestyg het tot 48 – en die Suid-Afrikaanse owerhede is gewaarsku om hier gereed te wees vir enige uitbreking.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê 449 gevalle van longpes is reeds in Madagaskar bevestig.

Die WGO waarsku daar heers kommer op internasionale vlak daaroor nadat ’n Suid-Afrikaanse basketbalspeler wat ’n klubkampioenskapsreeks bygewoon het, ook aangesteek is. Die speler is in Madagaskar suksesvol behandel en het volgens die WGO na Suid-Afrika teruggekeer. Hy en sy spanmaats word gemonitor.

Daar is geen reisverbod na of van Madagaskar nie.

Die nasionale departement van gesondheid het verskeie maatreëls ingestel, soos om lugrederye te waarsku om op die uitkyk te wees vir siek mense op vlugte.

Amptenare by Suid-Afrikaanse hawens is gevra om hul prosesse op te skerp om mense wat in die land aankom, behoorlik te ondersoek.

Alle provinsiale gesondheidsamptenare is ook in kennis gestel om gereed te wees vir enige uitbreking van die plaag.

Mense wat terugkeer vanaf Madagaskar moet hul gesondheid vir 15 dae lank fyn dophou en dadelik behandeling opsoek indien hulle ’n koors ontwikkel, lyf- en kopseer kry, kortasem raak, en hul limfkliere pynlik en ontsteek is.

Elsabé Brits het vroeër berig longpes is meer dodelik as builepes. Dié pes word veroorsaak deur ’n bakterie in knaagdiere soos rotte en muise en hul vlooie.

’n Mens kry dit van die rotte of/en die vlooie wat op hulle teer.

Volgens die WGO is dit dodelik indien dit nie gou genoeg

behandel word nie. Dit is omdat dit die longe bereik en dan kan dit regstreeks van mens tot mens oorgedra word.

Suid-Afrikaanse besoekers aan Madagaskar is deur die nasionale departement van gesondheid gewaarsku om digbevolkte gebiede daar te vermy en chirurgiese gesigmaskers te dra wanneer hulle reis.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!