Steve Biko-hospitaal – Meeste hysers buite werking

Die meeste hysers in die Steve Biko Akademiese hospitaal in Pretoria is reeds twee weke lank stukkend.

Talle pasiënte kan nie sekere prosedures ondergaan of dokters besoek nie.

Dié wat te siek of swak is om self by die trappe op te loop, sit en wag glo daagliks in die hospitaal se ontvangsgebied om kans te kry om ’n hyser te gebruik.

Prince Hamnca, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê op 3 September was die probleem op sy ergste, maar ’n kontrakteur werk sedertdien om die hysers te herstel.

“ ’n Aantal plekke in die hospitaal is hierdeur geraak, maar ons prioritiseer pasiëntsorg,” sê Hamnca.

Die departement het pasiënte en hul families om verskoning gevra vir die ongerief.

* Dinsdag is die 40ste herdenking van die moord op die struggleheld Steve Biko, na wie die hospitaal vernoem is.


Enjoyed this post? Share it!