Suid Afrika word geraak deur medisyne krisis na vervaardiging aanleg sluit

Talle kankerpasiënte loop die risiko dat hul allerbelangrike bestralingsbehandeling halfpad gestaak sal moet word omdat die aanleg wat kankermedisyne by Pelindaba vervaardig weens veiligheidsprobleme gesluit is.

Onkoloë en bestralingskundiges sit nou met die hand in die hare omdat die behandeling van pasiënte wat ernstig siek is onbepaald uitgestel moet word of nie sal kan voortgaan nie.

Kernmedisyne soos dié het ’n kort rakleeftyd en ’n produksiestaking by Pelindaba word binne dae deur dokters en hul pasiënte gevoel. Radioaktiewe mediese isotope word gebruik vir die behandeling van verskeie kankersoorte en die diagnose van sekere kwale. Dit kan uit Amerika of elders ingevoer word, maar ingevoerde medisyne kan tot 12 keer meer kos as die plaaslik vervaardigde produk – ’n prysverhoging wat dit buite die bereik van die meeste pasiënte plaas.

Die Nasionale Kernreguleerder (NKR) het die Kernenergiekorporasie (KEK) se aanleg by Pelindaba, noord van Pretoria, wat mediese isotope vervaardig verlede Vrydag gesluit nadat inspekteurs gebreke in die veiligheidsprosedures uitgewys het. Die NKR hou toesig oor die veiligheid van personeel wat in radioaktiewe omgewings werk terwyl die departement van gesondheid toesig hou oor die gehalte van mediese isotope.

Eers toe ons begin rondbel, het ons gehoor daar is probleme. Nou moet ons wag vir voorraad uit die buiteland.

Dr. Bismark Tyobeka, uitvoerende hoof van die NKR, sê hulle het reeds op 1 November die gebreke by die aanleg van Nuclear Technology Products, die filiaal van die KEK wat mediese isotope vervaardig, geïdentifiseer en gewaarsku dat die aanleg gesluit gaan word as die situasie nie verbeter nie. Nadat ’n opvolg-inspeksie getoon het dat daar steeds probleme is, is die aanleg ’n week gelede gesluit.

Dr. Kelvin Kemm, voorsitter van die KEK, het gister gesê die sluiting beteken ’n daaglikse verlies van tussen R3 miljoen en R4 miljoen. Suid-Afrika is een van die vernaamste vervaardigers van dié isotope en voer 90% van die produksie by Pelindaba na 60 lande uit.

Kemm sê dit is net die aanleg wat mediese isotope vervaardig wat gesluit is. Die kernreaktor funksioneer steeds 24 uur per dag om die res van die KEK se produkte en navorsing – soos neutronradiografie en -verbuigings – te ondersteun.

Hy sê hulle kon intussen alternatiewe verskaffers vir hul internasionale klante kry om hul uitvoerverpligtinge na te kom. Hulle tref reëlings om noodvoorraad in te voer, maar kon nie sê wanneer dit beskikbaar sal wees nie.

Intussen skarrel kerngeneeskundiges rond vir alternatiewe bronne vir dié peperduur en lewensbelangrike medisyne.

Linet Coetzer, ’n kerngeneeskundige van Welkom, het gister gesê haar medisynebestelling is Woensdag nie afgelewer nie.

“Eers toe ons begin rondbel, het ons gehoor daar is probleme by die KEK. Ek het Vrydag my heel laaste beskikbare dosis vir ’n skildklierkankerpasiënt gegee. Nou moet ons wag vir voorraad uit die buiteland.”

Sy sê ingevoerde medisyne gaan na verwagting 12 keer meer as die plaaslike produk kos.

Dr. Laura Serfontein, ’n onkoloog van Kaapstad, het aan Pieter Malan gesê die plaaslik vervaardigde medisyne kos, na gelang van die tipe, tussen R5 000 en R50 000 per behandeling.

“As die pryse van ingevoerde medisyne baie meer is as dit, sal die meeste van my pasiënte dit eenvoudig nie kan bekostig nie.”

Sy het Vrydag van die probleem bewus geword en sê die tekort behoort die meeste pasiënte nie te ernstig te raak nie – mits voorraad gou arriveer.

“Vir pasiënte reeds op terapeutiese behandeling of siektebeheer kan die nie-beskikbaarheid van medisyne egter wel ’n nadeel inhou,” sê sy.

Die KEK het Vrydag vure doodgeslaan oor die sluiting en gesê geen radioaktiewe gasse of ander materiaal is vrygestel wat die gesondheid van werknemers of inwoners in die Magaliesberg-gebied rondom Pelindaba kan beïnvloed nie.

Drie topbestuurslede van Nuclear Technology Products is egter met verpligte verlof geplaas terwyl ’n interne ondersoek na die probleme aan die gang is. Hulle is Tina Eboka, groephoof; Gavin Ball, uitvoerende bedryfshoof, en Gerhard Wortmann, hoof van voldoening.

Die KEK het Donderdag met ’n appèlproses teen die sluiting begin. Die proses behels dat die KEK aan die kernreguleerder moet wys hoe foute reggestel en voorkom gaan word.

Volgens Kemm sal dié proses hopelik binne twee weke afgehandel wees.

Toybeka sê die reguleerder sal nie toelaat dat die vervaardiging van mediese isotope voortgaan voordat hulle tevrede is dat alle gebreke reggestel en die aanleg bedryfsveilig is nie.

Die KEK is ’n staatsonderneming wat sentraal tot die land se beoogde kernkragprogram gaan staan met onder meer die opleiding van kerntegnici terwyl dit ook die program se nuwe kernreaktor sal huisves.

Die regering se planne vir ’n nuwe kernkragsentrale sluit die bou van ’n nuwe navorsingsreaktor by Pelindaba in om die stokou Safari-reaktor te vervang.

Dit is nie die eerste keer dat ’n aanleg by Pelindaba gesluit word nie. In 2013 was daar ’n gedeeltelike sluiting nadat ’n klein hoeveelheid radioaktiewe gas tydens ’n skoonmaakproses van een stelsel na ’n ander “gelek” het.


Enjoyed this post? Share it!