Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Openbare werke beoog om uiteindelik nuwe staatslykhuis te bou na jare se uitstel

Bouwerk het begin om die grootste staatslykhuis in die Wes-Kaap – wat 3 800 lykskouings per jaar doen – te vervang. Dit volg ná jare se beplanning en uitstel.

Die Wes-Kaapse departemente van gesondheid en openbare werke het pas aangekondig daar is begin met die projek van R281 miljoen. Dit sal 23 maande neem om die nuwe Observatory Forensiese Patologie-instituut te bou.

Die ou staatslykshuis in Soutrivier wat al sedert die 1950’s in gebruik is, sal nie meer bestaan nie.

Die nuwe gebou grens aan Hoofweg in Observatory en is langs die Kaapstadse Wetenskapsentrum geleë.

Die ou fasade van die oorspronklike gebou, die Pepsi Cola-fabriek, word om geskiedkundige redes behou en die res word nuut gebou.

Die gebou sal uit drie verdiepings bestaan, met 26 lykskouingtafels en vier areas vir disseksie sowel as areas vir opleiding.

Forensiese patoloë wat deels verbind is aan die Universiteit van Kaapstad en deels aan die departement van gesondheid doen lykskouings van enige onnatuurlike sterftes. Dit sluit gevalle in waar mense in ongelukke gesterf het, in sommige gevalle in hospitale en ook waar daar ’n misdaad vermoed word. Hulle lei ook studente op en getuig in die hof.

Die instituut sal 100 besoekers per dag kan hanteer wat hul naasbestaandes moet kom uit uitken, 20 studente en tien begrafnisondernemers.

Volgens die departement van gesondheid sal daar plek vir 360 lyke wees.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!