62 psigiatriese pasiënte nog vermis na Life Esidimeni-skandaal

Dit lyk soos ’n lys soldate wat ná ’n oorlog vermis is in aksie – maar in die werklike lewe is dit die lys van die Gautengse departement van gesondheid se lys van 62 psigiatriese pasiënte wat met die Life Esidimeni-skandaal verdwyn het.

Die pasiënte kan nêrens opgespoor word nie nadat hulle vanuit die sorgeenheid na verskeie ongeregistreerde sorgsentrums oorgeplaas is.

Altesaam 143 pasiënte is sedert die verskuiwing dood.

’n Arbitrasieverhoor word tans gehou onder die voorsitterskap van regter Dikgang Moseneke.

Jack Bloom, woordvoerder van gesondheid vir die DA in Gauteng, het vandag 62 sake van vermiste persone by die polisie aanhangig gemaak.

“Ons het geen ander keuse as om die polisie se hulp in te roep nie . . .” sê Bloom.

Volgens hom is 43 manlike en 19 vroulike pasiënte vermis.

Bloom sê dit is ook kommerwekkend dat die departement so min inligting oor die vermistes beskikbaar het.

As aanvaar word dat die mense wel dood is, styg die Esidimeni-tragedie se dodetal tot 200, sê hy.

Net 55 van die pasiënte op die lys se inligting is volledig. In sommige gevalle is daar net voorname en in ander net vanne. Baie van die pasiënte se identifikasienommers verskyn nie op die lys nie.

“Die pasiënte is nou al langer as 18 maande vermis. Iewers moet iemand tog foto’s van die mense hê. Dan is daar natuurlik ook kommer of die mense net vermis of dalk dood is.

“Met die min inligting beskikbaar oor die pasiënte kan daar nie eens vasgestel word of die mense nog maandeliks ongeskiktheidspensioen trek nie,” sê Bloom.

As aanvaar word dat die mense wel dood is, styg die Esidimeni-tragedie se dodetal tot 200, sê hy.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment