Miljoene betaal vir private ambulans-dienste in Noordwes Provinsie

Die Valke in Noordwes ondersoek kontrakte wat die provinsiale gesondheidsdepartement met private ambulansdienste aangegaan het, terwyl sowat 60 van die departement se eie ambulanse nie gebruik word nie.

Die 61 splinternuwe ambulanse wat Noordwes se gesondheidsdepartement in November en Desember sowat R20 miljoen uit die sak gejaag het, is ná byna drie maande steeds nie geregistreer nie.

Intussen word miljoene rande aan private ambulansdienste betaal.

Die departement, wat onder administrasie is, het sedert die 2016-’17-boekjaar R150 miljoen aan onderskeidelik die Buthelezi- en die High Care- private maatskappy betaal vir die gebruik van hul ambulanse, sê Tebogo Lekgethwane, woordvoerder vir Noordwes se gesondheidsdepartement.

Volgens hom sal die departement in die komende boekjaar na raming R95 miljoen hieraan bestee. Die departement gebruik 78 private ambulanse in die provinsie, waarvan 12 aan High Care en 66 aan Buthelezi behoort.

Die gesondheidsdepartement het volgens Lekgethwane einde verlede jaar 40 nuwe ambulanse gekoop, terwyl mynmaatskappye 21 geskenk het.

Die departement hoop nou om dié nuwe ambulanse teen Maart op die pad te kry sodra hulle geregistreer is, sê Lekgethwane.

“Dit neem lank om ’n ambulans op die pad te kry omdat dit as ’n taxi gekoop word. Dit moet dan eers in ’n ambulans omskep word, waarna dit aan die departement van vervoer oorhandig word vir registrasie en e-petrolskyfies. Die ambulanse kos omtrent R500 000 elk, maar dit sluit nie die koste in om dit van ’n taxi in ’n ambulans te omskep nie.”

Intussen het die gesondheidsdepartement teen Donderdagmiddag nog nie bekend gemaak of sy departementshoof, dr. Thabo Lekalakala, geskors gaan word nadat klagte van korrupsie en bedrog teen hom ingedien is nie.

Noordwes se portefeuljekomitee oor gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, asook die provinsie se staande komitee oor openbare rekeninge, het dié klagte Woensdag by die Valke ingedien.

Volgens Lekgethwane hou dit verband met verskeie kontrakte wat die gesondheidsdepartement aangegaan het – onder meer met die private ambulansmaatskappye Buthelezi en High Care.

Die verdagte toekenning van ’n kontrak aan Mediosa vir die bestuur van die provinsie se vloot mobiele klinieke word ook ondersoek, sê Lekgethwane. Bewerings word gemaak dat die Mediosa-maatskappy Gupta-bande het. Madoda Sambatha, voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid (wat onder die Noordwes-wetgewer val), sê egter hul bekommernis is eerder of die regte prosedures gevolg is met die Mediosa-ooreenkoms, as die kwessie oor die beweerde Gupta-bande.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder, het bevestig dat die Valke reeds begin het om verklarings by amptenare van die departement van gesondheid af te neem oor beweerde bedrog en korrupsie.

Intussen word ook in die Vrystaat vrae gevra oor ’n kontrak van R6 miljoen per maand met die Buthelezi-ambulansdiens, terwyl die Vrystaatse ambulansdienste agteruitgaan, berig Charles Smith.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment