Oorgrote meerderheid mense steun op die openbare gesondheidstelsel – Tshwane-klinieke ‘moet ten alle tye oop wees’

Die EFF in Tshwane het laas Donderdag ʼn mosie ter tafel gelê vir die stad se gesondheidsentrums om 24 uur per dag, sewe dae van die week, oop te wees.

Dít volg op die suksesvolle mosie in Johannesburg verlede jaar waartydens die raad ingestem het om heeltydse gesondheidsorg reg oor die stad te verskaf.

“Die Stad Tshwane het tans 24 klinieke en twee mobiele klinieke, wat nie genoeg is om voorsiening te maak vir die meer as 3,1 miljoen inwoners se behoeftes nie. Die oorgrote meerderheid mense steun op die openbare gesondheidstelsel,” het die EFF Donderdag gesê.

Die EFF het die tekort aan verpleegsters, veral in klinieke in die informele nedersettings, lang rye wat so vroeg as 05:00 soggens begin en die tekort aan medisyne by sommige sentrums veroordeel.

Ander eise sluit in dat chroniese medikasie aan pasiënte wat nie in staat is om die medisyne self te gaan afhaal nie afgelewer moet word, dat mobiele klinieke voltyds beskikbaar gemaak word in omgewings soos informele nedersettings waar daar nie gesondheidsentrums is nie en dat klinieke wat ʼn ooraanbod van pasiënte het bygestaan word deur mobiele klinieke.

Die mosie sal later Donderdag deur die raad gedebatteer word.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment