Vrou sterf wat glo in Warmbad- provinsiale hospitaal laat val is

Die kankerpasiënt wat verlede week glo deur verpleegsters op die vloer laat val is in die Bela-Bela (Warmbad)- provinsiale hospitaal, is Maandagmiddag dood.

Charmaine Caldwell (48) is omstreeks 13:10 dood, sê Leonie Brooks, haar suster.

Caldwell is verlede Maandag per ambulans na die hospitaal geneem toe haar toestand verswak het.

Haar familie was geskok toe hulle haar Dinsdag besoek en groot blou kneusmerke op haar rug gesien het. Daar was ook ’n diep wond aan haar voorkop. Sy het nie die merke gehad toe sy Maandag in die hospitaal opgeneem is nie.

Sy het vir haar familie gesê dat verpleegsters haar laat val het toe hulle haar van die bed af opgetel het.

Brooks wou antwoorde by die bestuur van die hospitaal hê, maar sy het teen Vrydag nog geen terugvoering ontvang nie.

“Dit is verkeerd dat ’n verpleegster, verpleegsuster of dokter wat ’n eed geneem het om mense met respek te behandel, so optree. My suster is beslis nie met menswaardigheid hanteer nie.”

Brooks het ’n klag van aanranding by die polisie in Bela-Bela aanhangig gemaak. Sy het ’n brief gestuur aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, oor wat met haar suster gebeur het. Sy het Vrydagmiddag erkenning van ontvangs van Motsoaledi se kantoor gekry.

Thabiso Teffo, woordvoerder van die departement van gesondheid in Limpopo, sê ‘n ondersoek word gedoen.

Teffo en Derick Kganyago, nog ’n woordvoerder van die gesondheidsdepartement in Limpopo, het teen Maandagmiddag nog nie op skriftelike navrae gereageer nie.

Borskanker is in Februarie 2017 by Caldwell gediagnoseer. Sy het chemoterapie en bestraling ondergaan, maar teen einde verlede jaar het dokters gesê “die kanker is te aggressief” en dit het na haar longe versprei. Sy het verlede jaar ook ’n beroerte gehad.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment